Woensdag 02 Oktober 2013

Refleksie

Waar om te begin? Dit was elke week die vraag. Om die “blog” te skep was beslis die moeilikste aspek van hierdie opdrag. Dit het my ure geneem om die geskikte ontwerp en kleurskema te kies. Ek het selfs my eerste tema verander en finaal besluit om my liefde vir kreatiewe handewerk as die tema te gebruik. Omdat ek seker was dat ek daaroor kon skryf.

Ek het gedink hierdie opdrag sou maklik wees, maar ek was heeltemal verkeerd. Die weeklikse plasing het ure geneem. Ek het ook ekstra moeite gedoen om dit te laat nasien en om steeds op te eindig met foute was vir my elke week 'n beproewing. Afrikaans is 'n moeilike taal. Veral as jy dink omdat jy dit kan praat, jy dit ook kan skryf.

Dit was baie interesant om my klasmaats se "blogs" te lees en meer van hulle te leer en ook om te leer hoe om 'n blog te skep. Ek sal dit moontlik eendag weer doen en sal graag ander se "blogs" volg.

Tot siens..........................

Woensdag 25 September 2013

Materiaalverf



Materiaalverf, of lapverf soos dit ook bekend staan, is een van die gewildste stokperdjies in die land. Dit is kreatief en terselfdertyd heerlik ontspannend.

Jy benodig die volgende:
  • 100%  suiwer katoen
  • Varkhaarkwaste no.1, 3 en 5
  • Materiaalverf in "Hunters Green", "Blush Pink" en "Rose Red"
  • 'n Stuk afval lap om jou kleure op te toets.
Wenk: 'n ysbakkie is perfek om kleure in te meng. Jy kan dit oortrek met kleefplastiek wanneer jy klaar is daarmee om jou verf 'n langer raklewe te gee.


Instruksies:

  1. Kry 'n templaat waarvan jy hou en trek dit af met 'n wasgoedmerker op 100% katoen lap.
  2. Meng die kleure wat jy benodig vooraf en werk met een kleur op 'n slag (bv. verf al die blare eerste) en laat dit droog word.
  3. Verf dan die ligste rosies, voordat jy met die donker skakeerings begin. Jy kan jou vinger gebruik om die kleure te meng terwyl jy op die lap verf.
  4. Skakeer die rosies met die rooi verf en laat dit droog word.
  5. Wanneer die lap heeltemal droog is, verkieslik na 'n paar dae, kan die lap op die agterkant met  'n strykyster gestryk word. Stel die yster op hoe hitte. Stryk die lap kol vir kol, vir ongeveer 3 minute per area. Maak seker dat elke deeltjie van die lap gestryk is, anders sal die verf op die plekke waar die lap nie goed gestryk is nie vloei of uitwas.


Woensdag 18 September 2013

Daleen se les.



Daleen knyp haar oë styf toe en wens dat die vloer oop kraak en haar lewendig insluk. Sy voel hoe haar wange bloedrooi word.

Sy was nog altyd ’n doodgewone mens, van kleins af was sy lief vir teken en om haar kreatiewe sy uit te leef. Dit was vir haar opwindend om meer te leer oor kuns.

Daardie dag het sy besef dat die kuns kurses, waarvoor sy opgeteken het stil lewe tekeninge insluit. Dit het beteken dat sy nie net mooi blomme en vrugte rangskikkings moes teken nie , maar  naakte persone ook.

Daleen staar daardie dag na ‘n oom wat haar oupa kon wees. Sy weet nie watter kant toe om te kyk nie, maar tog moet sy kyk en teken. Alles wat sy sien, elke kreukel en lyn het so diep ingesink dat haar middagete summuur opgeduik het in haar keel.

Sy het probeer om dit weg te sluk maar niks het gehelp nie.  Sy het heel voor gesit in die klas en was opsoek na ‘n uitweg vir haar situasie. Al wat uitstaan was die emmer wat die oom gebruik het om sy manlikheid te beskerm. Sy onthou steeds hoe sy met een vinige beweging die emmer gryp en hoe sy met alle geweld daarin braak.

Toe staan die oompie, poedelnaak. Hy het haar net een kyk gegee en toe neem hy weer sy posisie in, koel en kalm asof niks gebeur het nie.

‘n Les wat Daleen nie gou sal vergeet, moet nooit toelaat dat 'n situasie jou onkant betrap nie.

Tot volgende week..........................................

Woensdag 04 September 2013

Waarom hierdie tema ?



Die naam van my "blog" beskryf myself. Ek is 'n skaam persoon met 'n kreatiewe siel. Ek uiter myself beter deur my kreatiewe sy te gebruik. Ek sal liewer vir iemand 'n handgemaakte geskenkie of kaartjie  maak met 'n spesiale boodskap vir hul verjaarsdag as om 'n toespraak te lewer.

Wanneer ek besig is met 'n kreatiewe projek, is ek in 'n ander wêreld. Ek leef myself uit en vergeet van al my sorge. Ek voel weer soos daardie kleuter wat oral teen die mure teken. Dis vreeslik ontspanend en ook 'n wondelikke manier om geld te bespaar, veral in die beroep wat ek myself  begewe. Daar is soveel hulpbronne wat ek vir my klaskamer kan optower en selfs vir die kinders kan leer om te maak. Ek is seker hulle sal dit terdeë geniet. 
 
Ek maak jaarliks, papier blommetjies of mandjies vir die kerk se bezaar. My jongste poging is om ou konfyt blikke te herwin en dit te omskep. Dit kan gebruik word as pennehouers.




Penneblikkie
 Tot volgende week...............